34 Een van die Aramese soldate het heel toevallig ’n pyl in die lug geskiet. Dit het vir Agab getref en deur ’n swak plek in sy harnas gedring. Benoud het Agab vir sy wadrywer gesê: “Ek is gewond. Draai om en kry my vinnig hier weg.”
35 Die geveg was so hewig dat die drywer hom nie kon wegkry nie. Agab moes die hele dag in die wa bly staan en teen die Arameërs veg. Die wa was naderhand vol bloed en teen die aand is hy dood.
36 Die son was al amper onder toe Israel se manne beveel is: “Elkeen moet na sy eie dorp en stad teruggaan. Die oorlog is verby, want die koning is dood.”
37 Agab se liggaam is Samaria toe geneem en hy is daar begrawe.
38 By die fontein van Samaria waar die straatvroue hulle altyd gewas het, het hulle Agab se bebloede wa afgespoel. Die honde het sy bloed daar opgelek. Dit het presies gebeur soos die Here gesê het.
39 Alles wat Agab gedoen het, soos die huis met ivoorinlegwerk en al die stede wat hy gebou het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings beskryf.
40 Na Agab se dood het sy seun Ahasia hom opgevolg.