1 Koning Hiram van Tirus was altyd ’n goeie en getroue vriend van Dawid. Toe hy hoor dat Salomo sy pa opgevolg het, het hy ’n groep ambassadeurs Jerusalem toe gestuur.
2 Salomo het ’n boodskap van dank aan Hiram gestuur en ook die volgende vir hom gesê:
3 “Soos u weet, het my pa altyd teen die omliggende volke oorlog gemaak. Omdat hy eers al hierdie volke moes oorwin, was dit nie vir hom moontlik om vir die Here sy God ’n tempel te bou nie.
4 Met my gaan dit baie goed, want daar is oral vrede. Op die grense van die land is dit rustig; daar is geen gevaar van enige vyand nie.
5 Die Here het lank gelede vir my pa gesê dat hy nie die tempel moet bou nie, maar dat sy opvolger dit sal doen. Ek het besluit om nou daarmee te begin. Ek wil die tempel bou sodat daar ’n plek kan wees waar ek die Here my God sal kan aanbid.
6 Ek wil u vra om my te help. Stuur asseblief u manne na die Libanon om daar vir my seders te gaan kap. My manne sal dit hier verder saam met u manne bewerk. Soos u weet, kan my mense nie so goed bome kap soos u manne nie. Onthou, ek sal u mense betaal wat u ook al vra.”
7 Hiram was baie bly oor Salomo se boodskap en het gesê: “Loof die Here vandag omdat hy Dawid so ’n slim seun gegee het. ’n Seun wat hom kon opvolg en die koning van ’n groot nasie kon word.”