8 Hiram het nie gras onder sy voete laat groei nie en hy het Salomo geantwoord: “Dankie vir u boodskap. Ek is bereid om te help en sal u van seders en sipreshout voorsien.
9 My manne sal die boomstompe van die Libanon af na die see toe sleep. Daar sal hulle dit aan mekaar vasmaak en die vlotte met die see langs laat afkom tot waar u dit wil hê. Daar sal my manne dit weer losmaak en u manne kan dan oorneem. U moet asseblief net genoeg kos aan my mense voorsien.”
10 Hiram het Salomo al die seders en sipresse laat kry wat hy nodig gehad het.
11 Salomo het op sy beurt elke jaar vir Hiram 2 000 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie gestuur.
12 Die Here was goed vir Salomo en het hom die nodige wysheid gegee om goed te regeer. Die verhouding tussen Salomo en Hiram was uitstekend en hulle het ’n vredesooreenkoms gesluit.
13 Koning Salomo het 30 000 man van oor die hele Israel opgeroep om met al die bouprojekte te help.
14 Hy het Adoniram oor hulle aangestel en dié het hulle in drie groepe van 10 000 ingedeel. Elke groep het een maand in die Libanon en twee by die huis deurgebring.