5 Al die deuropeninge en die vensters was reghoekig. Die deure en die vensters is so gerangskik dat hulle teenoor mekaar was.
6 Salomo het ook ’n pilaargang gebou wat 25 meter lank en vyftien meter breed was. Voor die pilaargang was daar ’n portaal met ’n dak wat ver oor die portaal gesteek het.
7 Dan was daar ook nog die troonsaal. Dit was die plek waar Salomo al die sake aangehoor en uitspraak gelewer het. Die hele vertrek was van bo tot onder met sederhout uitgevoer.
8 Salomo se woonhuis is teen die agterste muur van die troonsaal gebou. Dit was min of meer dieselfde grootte as die troonsaal en het dieselfde afwerking as die ander geboue gehad. Vir die farao se dogter met wie hy getroud was, het hy ’n huis volgens die plan van die troonsaal gebou.
9 Al die geboue is van die fondament tot die dak met ’n baie duursame klip gebou. Die gedeelte van die straat tot by die groot voorhof is ook met hierdie klip geplavei. Dit is vooraf in die steengroef volgens maat gekap en toe baie netjies met ’n saag aan alle kante afgewerk.
10 Die fondamente is met groot klippe van vier meter en vyf meter gebou. Hierdie duursame klippe is ook in die steengroewe gekap en voorberei.
11 Bo-op hierdie klippe is ander klippe, wat presies volgens maat gekap is, asook stroke sederhout, gesit.