1 Nadat Salomo die tempel gebou het, het hy al die stamleiers en die familiehoofde van Israel in Jerusalem bymekaar laat kom. Hy wou hê hulle almal moes teenwoordig wees wanneer die verbondsark van die Here uit Dawid se stad gedra word.
2 Almal het toe op die feesdag in die maand Etanim, dit is die sewende maand, in Jerusalem bymekaargekom.
3 Toe almal daar was, het die priesters die ark waarin die bewys van die ooreenkoms van God met sy volk was, opgetel
4 en dit na die tempel toe gedra. Van die Leviete het toe gekom en die tent waar die Here altyd teenwoordig was, met al sy toebehore ook in die tempel gaan neersit.
5 Salomo en almal saam met hom het toe voor die verbondsark, wat hulle voor die tempel neergesit het, gaan staan en begin offer. Daar was soveel kleinvee en beeste wat geoffer is dat dit nie eens getel kon word nie.
6 Daarna het die priesters weer die verbondsark opgetel en dit binne-in die tempel ingedra. Daar het hulle dit baie versigtig onder die gerubs se vlerke in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gaan neersit.
7 Die verbondsark, asook die houtpale waarmee dit gedra is, het net mooi onder die gerubs se uitgestrekte vlerke ingepas.