27 Daarna het hulle die gedenksteen ter ere van Baäl stukkend gebreek en die hele gebou afgebreek. Hulle het openbare toilette daarvan gemaak, en dit is waarvoor die plek nog steeds gebruik word.
28 So het Jehu alle tekens van Baälverering in Israel uitgeroei.
29 Jehu het egter nie opgehou om die verkeerde dinge te doen wat die Israeliete sedert die tyd van Jerobeam, die seun van Nebat, gedoen het nie. Hy het niks aan die goue bulbeelde gedoen wat in Bet-El en Dan gestaan het nie.
30 Ten spyte daarvan het die Here vir hom gesê: “Jy het goed gedoen om die familie van Agab heeltemal uit te roei. Dit is wat Ek wou gehad het moes gebeur. Daarom het Ek besluit dat jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders vier geslagte lank in Israel sal regeer.”
31 Maar Jehu was nie heeltemal getrou aan die Here, die God van Israel, se wette nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam in Israel ingebring het nie.
32 Dit was juis in die tyd van Jehu dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner word. Koning Hasael van Aram het dele van die land
33 oos van die Jordaanrivier beset. Hy het Gilead beset, en dit het die stamgronde van Gad, Ruben en Manasse ingesluit, van Aroër aan die Arnonrivier af, tot by die Basanplato.