1 Elisa het vir die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, gesê: “Vat jou familie en gaan bly op ’n plek in die buiteland. Die Here het bepaal dat daar in ons land ’n hongersnood gaan wees wat sewe jaar lank gaan aanhou.”
2 Die vrou het dit gedoen en vir sewe jaar in die land van die Filistyne gaan woon.
3 Na die hongersnood het sy na Israel toe teruggekom. Sy het toe met die koning gaan praat om haar huis en haar grond te probeer terugkry.
4 Die koning was net toe besig om met Gehasi, Elisa se assistent, te gesels. Hy het vir Gehasi gevra: “Vertel my ’n bietjie van die groot dinge wat Elisa gedoen het.”
5 Terwyl Gehasi besig was om te vertel van die keer toe Elisa die seun lewendig gemaak het, kom die vrou net daar aan om met die koning te praat oor haar huis en haar grond.“Kyk, U Majesteit!” het Gehasi uitgeroep. “Dít is die vrou en haar seun wat deur Elisa lewendig gemaak is!”
6 “Is dit waar?” het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig. Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: “Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort. Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is van die tyd wat sy weg was.”
7 Elisa het Damaskus, die hoofstad van Aram, besoek terwyl die koning, Ben-Hadad, siek in die bed was. Iemand het vir Ben-Hadad vertel dat Elisa in die stad was.
8 Toe hy dit hoor, het Ben-Hadad vir Gasael na Elisa toe gestuur. “Neem geskenke saam en gaan vra vir die man van God Hy moet die Here vra of ek weer gesond gaan word,” het hy beveel.
9 Gasael het 40 kamele gelaai met die beste produkte uit Damaskus as ’n geskenk vir Elisa. Toe hy by hom aankom, het hy gesê: “U kneg, Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy weer gesond sal word.”
10 Elisa het geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal gesond word,’ maar die Here het my laat weet dat hy eintlik gaan sterf.”
11 Elisa het stip na Gasael gekyk, totdat Gasael ongemaklik begin raak het. Toe het Elisa begin huil.
12 Gasael het gevra: “Waarom huil u, Meneer?”“Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy met die Israeliete gaan doen,” het hy geantwoord. “Ek weet jy gaan hulle vestingstede aan die brand steek, hulle jongmans doodmaak, hulle kinders teen die grond doodslaan en dat jy hulle swanger vroue gaan oopsny.”
13 “Maar, Meneer, hoe kan ek wat eintlik niemand is nie, iets so verskrikliks doen?” het hy gevra.Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my bekend gemaak dat jy die koning van Aram gaan word.”
14 Gasael is toe terug na Ben-Hadad toe. Ben-Hadad het gevra: “Wat sê Elisa?”“Hy sê u gaan beslis gesond word,” het Gasael geantwoord.
15 Maar die volgende dag het hy ’n laken gevat en dit natgemaak. Hy het toe die nat doek oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk en hom versmoor.Daarna het Gasael in Ben-Hadad se plek koning van Aram geword.
16 Joram, die seun van koning Josafat, het die koning van Juda geword in die vyfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het.
17 Hy was 32 toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.
18 Hy was getroud met ’n dogter van Agab en het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg. Hy het dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie.
19 Ter wille van Dawid, wat ’n besondere verhouding met die Here gehad het, wou die Here Juda nie vernietig nie. Trouens, Hy het vir Dawid belowe dat daar altyd ’n koning uit sy nageslag in Juda sou regeer.
20 Tydens Joram se bewind het die Edomiete teen Juda gerebelleer en hulle eie koning gekroon.
21 Joram wou die orde herstel en het die Edomiete met al sy strydwaens gaan aanval. By die dorp Saïr het die Edomiete hulle omsingel. Hy en die strydwaens kon egter in die nag uitbreek en wegkom, maar sy voetsoldate het gevlug en huis toe gegaan.
22 Edom is tot vandag toe onafhanklik van Juda. Dit was ook in dié tyd dat die dorp Libna teen Juda in opstand gekom het.
23 Die res van Joram se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.
24 Na sy dood is Joram by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Ahasia opgevolg.
25 Ahasia, die seun van koning Joram van Juda, het koning van Juda geword in die twaalfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het.
26 Hy was 22 toe hy koning geword het en hy het ’n jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n vrou uit die nageslag van koning Omri van Israel.
27 Hy het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg en dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie. Die rede hiervoor was dat hy in die familie van Agab ingetrou het.
28 Ahasia het koning Joram van Israel gaan help in sy oorlog teen koning Gasael van Aram. Die geveg het naby die dorp Ramot in Gilead plaasgevind, waar Joram gewond is.
29 Hy het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel. Terwyl hy in Jisreël aangesterk het, het Ahasia van Juda hom kom besoek.