8 Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.”
9 Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak?
10 Julle moet net weet dat alles waar sal word wat die Here oor Agab en sy familie gesê het. Wat julle hier sien, is die manier waarop die Here dit wat Elia aangekondig het, laat gebeur het.”
11 Daarna het Jehu al Agab se familielede in Jisreël doodgemaak. Ná hulle het hy Agab se hoë amptenare, asook sy vriende, vertrouelinge en priesters laat doodmaak. Daar het niemand uit Agab se familie oorgebly nie.
12 Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop.
13 “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.”
14 “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak.