1 In die 23ste jaar wat koning Joas in Juda regeer het, het Joahas, die seun van Jehu, koning in Israel geword. Hy het sewentien jaar lank in Samaria regeer.
2 Die Here was nie tevrede met Joahas se optrede nie. Hy het aangehou met die sonde wat Jerobeam Israel laat doen het.
3 Daarom het die Here se woede Israel getref, want Hy het toegelaat dat Gasael, die koning van Aram, en sy seun Ben-Hadad Israel gereeld verslaan.
4 Joahas het by die Here gepleit om hulp. Die Here het sy gebed verhoor, want Hy kon sien hoe erg die Arameërs Israel verdruk.
5 Die Here het vir Israel ’n redder gegee wat hulle van die Aramese onderdrukking kon verlos. Daarna kon hulle weer soos vroeër in vrede lewe.
6 Hulle het egter aangehou met die sonde wat by Jerobeam begin het. Hulle het selfs die Asjerabeeld in Samaria laat bly staan.