11 Jy weet mos dat die Assiriërs elke land wat hulle aangeval het, oorwin het. Waarom sal dit nou anders wees met julle?
12 Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin.
13 Wat het van die konings van Hamat en Arpad geword? Wat het met die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa gebeur?”
14 Toe Hiskia die brief van die boodskappers af kry, het hy dit gelees. Daarna het hy tempel toe gegaan en dit voor die Here oopgesprei.
15 Toe bid hy: “O Here wat die Groot Bevelvoerder is, God van Israel, U regeer oor alles. U is die God van alle koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.
16 Luister asseblief tog na my gebed! Kyk bietjie, Here. Hoor net wat Sanherib alles sê, hoe hy die lewende God beledig!
17 “Dit is natuurlik waar wat hy in sy brief sê, Here: die Assiriërs hét al die volke wat hy noem, oorwin.