6 Hy sê toe vir hulle: “Hierdie boodskap van God is vir koning Hiskia bedoel. Die Here sê: ‘Moenie bekommerd wees oor die manier waarop die Assiriese afvaardiging met My gespot het nie.
7 Jy kan maar weet Ek gaan teen hulle optree. Die Assiriese koning gaan ’n boodskap van die huis af kry wat hom sal laat besluit om huis toe te gaan. Ek sal dan sorg dat hy daar in sy eie land vermoor word.’”
8 Die Assiriese hoofgesant het intussen teruggegaan na sy koning toe. Hy was nie meer by Lagis nie, maar het die dorp Libna aangeval.
9 Kort daarna het koning Sanherib ’n boodskap gekry dat koning Tirhaka van Etiopië op pad was om hom aan te val. Voordat hy daarop gereageer het, het hy nog gou weer die volgende boodskap vir Hiskia in Jerusalem gestuur:
10 “Dié boodskap is vir koning Hiskia van Juda bedoel: Moenie dat die God op wie jy vertrou jou mislei as Hy jou belowe dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie.
11 Jy weet mos dat die Assiriërs elke land wat hulle aangeval het, oorwin het. Waarom sal dit nou anders wees met julle?
12 Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin.