1 Elia en Elisa was van Gilgal af op pad toe dit byna tyd was dat God Elia in ’n stormwind sou wegneem hemel toe.
2 Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my Bet-El toe.” Elisa het geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u nooit alleen laat gaan nie.” Hulle twee het toe Bet-El toe gegaan.
3 ’n Groep profete wat in Bet-El gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” “Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy, “maar moenie daaroor praat nie!”
4 Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my Jerigo toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe Jerigo toe gegaan.
5 ’n Groep profete wat in Jerigo gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” Hy het toe weer geantwoord: “Natuurlik weet ek dit, maar moenie daaroor praat nie!”
6 Elia sê toe ’n derde keer vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie!” Die twee van hulle het toe vertrek.
7 ’n Groep van omtrent 50 profete het hulle gevolg en op ’n afstand gekyk wat hulle by die rivier doen.