10 Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11 Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem.
12 Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur.
13 Elia se mantel het in die harwar van hom afgeval. Elisa het dit opgetel en na die Jordaanrivier teruggegaan.
14 Hy het die water met die mantel geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, Elia se God?” Die water het weer verdeel en hy het deur die rivier gestap.
15 Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig.
16 Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.”