8 Elia het sy mantel opgerol en daarmee op die water geslaan. Dit het die water laat verdeel en hulle twee het droogvoets deur die rivier gestap.
9 Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.”
10 Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11 Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem.
12 Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur.
13 Elia se mantel het in die harwar van hom afgeval. Elisa het dit opgetel en na die Jordaanrivier teruggegaan.
14 Hy het die water met die mantel geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, Elia se God?” Die water het weer verdeel en hy het deur die rivier gestap.