8 Toe Safan daar by hom kom, sê die hoëpriester Gilkija vir hom: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee en hy het dit gelees.
9 Daarna is Safan na die koning toe terug om verslag te doen: “Ons het die geld vir die kontrakteurs gegee om met die herstelwerk aan die tempel te begin.
10 Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die hoëpriester het hierdie boekrol vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees.
11 Toe Josia hoor wat in die wetboek staan, het hy van ontsteltenis sy klere geskeur.
12 Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija die hoëpriester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê:
13 “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie aan die boek se inhoud gesteur nie. Die Here moet woedend wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.”
14 Hulle is toe na die profetes Gulda toe wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was.