18 Josia het toe beveel: “Laat dié graf dan met rus en moenie die bene uithaal nie.” So het dit gebeur dat hulle die bene van die profeet uit Juda en dié van die ou profeet uit Samaria nie versteur het nie.
19 Josia het ook die tempels vernietig wat die konings van Israel in Samaria gebou het. Hy het dit op dieselfde manier behandel as die heilige plek by Bet-El.
20 Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy.Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.
21 Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.”
22 Die paasfees is in al die jare van die konings van Israel en Juda nie só gevier nie. Dit het laas gebeur in die tyd toe die rigters in Israel regeer het.
23 Die paasfees ter ere van die Here is in Jerusalem tot eer van die Here gevier in die agtiende jaar wat Josia regeer het.
24 By alles wat hy reeds gedoen het, het Josia ook nog ontslae geraak van alle mense wat geeste oproep en waarsêery beoefen het, asook van alle huisgode en elke ander manier waarop afgode in Juda of in Jerusalem gedien kon word. Dit was alles bedoel om te voldoen aan die Here se eise volgens die wetboek wat Gilkija in die tempel gekry het.