1 Gedurende Jojakim se regering het Nebukadnesar Juda aangeval. Jojakim het hom drie jaar lank aan Nebukadnesar onderwerp. Daarna het hy teen Babel gerebelleer.
2 Toe het die Here bendes Babiloniërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete gestuur om Jojakim aan te val. Hy het hulle gestuur om Juda te vernietig, presies volgens die waarskuwings wat Hy deur die profete gestuur het.
3 Die Here het self besluit dat Juda moes verdwyn. Dit was as gevolg van die ontsettende sondes wat Manasse gedoen het.
4 Hy het onder meer ’n klomp mense onskuldig doodgemaak sodat die bloed vrylik in Jerusalem gevloei het. Die Here wou al dié dinge nie vergewe nie.
5 Die res van Jojakim se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.
6 Ná Jojakim se dood het sy seun Jojagin in sy plek koning geword.
7 Die koning van Egipte het na dié tyd nooit weer buite Egipte opgetree nie, want die koning van Babel het die hele gebied tussen die Egiptespruit en die Eufraatrivier beset wat voorheen deur Egipte beheer is.