12 Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk.
13 Die soldate het al die brons in die tempel bymekaargemaak. Hulle het die bronspilare, die bronswaterkarretjies en groot bronswaterbak opgebreek en die metaal Babel toe gevat.
14 Dieselfde het gebeur met die kleiner bronsvoorwerpe, soos die potte, grawe, skêre, panne en ander gereedskap wat in die tempel gebruik is.
15 Hulle het ook die vuurbakke en komme buitgemaak wat van suiwer goud en silwer gemaak is.
16 Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie.
17 Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak.
18 Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel.