14 Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n.
15 Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.”
16 Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier.
17 Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer.
18 Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!”
19 Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan.
20 Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!”