5 Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem.
6 Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?”
7 Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra.
8 Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!”
9 Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery.
10 Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.”
11 Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word.