16 Elisa het geantwoord: “Moenie bekommerd wees omdat hulle so baie is nie. Dié aan ons kant is baie meer as hulle soldate!”
17 Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was.
18 Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen.
19 Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei.
20 Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria!
21 Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?”
22 “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.”