20 Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria!
21 Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?”
22 “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.”
23 Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer.
24 ’n Ruk later het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër opgeroep. Hulle het na Samaria toe opgetrek en die hele stad lamgelê.
25 ’n Verskriklike hongersnood het geleidelik as gevolg van die beleg ontstaan. Dit was só erg dat ’n donkiekop later byna ’n kilogram silwer en ’n skeppie duiwemis meer as 50 gram silwer gekos het.
26 Eendag het die koning van Israel op die stadsmuur gaan stap om te sien wat in die stad aangaan. ’n Vrou het hom gesien en uitgeroep: “U Majesteit, help my, asseblief!”