28 Maar toe vra hy haar: “Waarmee kan ek help?”“In my saak teen dié vrou, o koning,” het sy geantwoord. “Sy het gesê: ‘Kom ons eet jou seun vandag, dan kan ons môre myne gaarmaak.’
29 Ons het my seun toe eerste geëet, maar toe ek die volgende dag vir haar sê: ‘Maak nou jou seun dood, dat ons kan eet,’ het sy haar kind weggesteek.”
30 Die koning was verskriklik ontsteld toe hy haar storie hoor. Hy het sy klere stukkend geskeur as teken van sy ontsteltenis. Toe hy verder loop, kon die stad se mense sien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aangehad het.
31 “God kan my maar doodmaak as ek nie vandag nog vir Elisa doodmaak nie,” het hy ontsteld verklaar.
32 Elisa het op daardie tydstip saam met ’n groep leiers in sy huis gesit. Die koning het ’n boodskapper na hom gestuur om hom te laat roep. Nog voordat die boodskapper egter by die huis aangekom het, het Elisa vir die mense by hom gesê: “Pas op! Ons koning, die seun van ’n moordenaar, het iemand gestuur om my dood te maak. Sorg dat die deur toe is as hy hier kom sodat hy nie kan inkom nie. Die koning is self te voet hierheen op pad. Ek sal met hom praat.”
33 Hy was nog besig om te praat toe dit gebeur. Die koning het Elisa toegesnou: “Dit is die Here self wat hierdie ellende oor ons laat kom het! Hoe kan ek nog langer hoop dat Hy ons moet red?”