2 Konings 7:3-9 DB

3 Vier melaatse mans, mense met ’n ernstige velsiekte, het buite die poort van Samaria gebly. Hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons nou hier bly sit om dood te gaan?

4 In die stad is daar nie redding nie, die hongersnood is te erg en ons sal daar doodgaan. As ons net hier bly, sal ons ook sterf! Dus, kom ons loop oor na die Arameërs toe. As hulle ons lewe spaar, dan leef ons ten minste. As hulle ons doodmaak, is dit tog maar net wat hier ook met ons sou gebeur het.”

5 Hulle het toe teen die aand oorgeloop na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle daar aankom, was daar nie ’n mens nie.

6 Dit is wat gebeur het: Die Here het die Aramese soldate ’n geluid laat hoor wat geklink het soos ’n groot leërmag wat hulle aanval. Dit het geklink soos ’n geweldige klomp strydwaens en perde. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Israel se koning het die Hetiete en die Egiptiese leërs gehuur om teen ons te kom veg.”

7 Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan.

8 Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen.

9 Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.”