38 Jou helper, Josua die seun van Nun, sal dit wel sien. Praat hom moed in, want hy is die een wat Israel die nuwe land sal inlei.’
39 Die Here het verder vir almal gesê: ‘Julle klein kindertjies wat nog nie mooi weet wat reg en verkeerd is nie, sal die land binnetrek. Julle het gesê die vyand sal nog julle kinders in die woestyn doodmaak, maar Ek sal die Beloofde Land vir húlle gee.
40 Die res van julle kan net sowel nou omdraai en deur die woestyn na die Skelfsee teruggaan. Julle sal die land wat Ek julle beloof het, nooit sien nie.’
41 “Toe julle dit gehoor het, het julle gesê: ‘Moses, ons het drooggemaak. Soos die Here vir ons gesê het, sal ons sommer dadelik die land binneval.’ En kan julle nog onthou wat toe gebeur het? Elkeen het sy wapens geneem en wou die land sommerso binneval.
42 “Toe het die Here weer gesê: ‘Moses, keer hulle. Ek gaan beslis nie saam met hulle nie. Daarom sal die vyand hulle vernietig.’
43 Ek het julle alles vertel wat die Here gesê het, maar weer het julle nie geluister nie. Julle het julle weer nie aan Hom gesteur nie en die land binnegeval.
44 Toe het die Amoriete wat in die berge woon, op julle toegesak en julle soos bye agtervolg. Hulle het julle tot so ver as Horma en Edom verdryf.