Deuteronomium 9 DB

Israel moet nie te vol van hulleself word nie

1 Moses het ook vir die Israeliete gesê: “Israel, jy moet nou baie mooi luister. Jy staan op die punt om deur die Jordaan te trek en ’n nuwe land binne te gaan. Daar woon volke wat groter en sterker is as jy. Hulle stede is groot en met hoë mure omring.

2 En die mense is groot. Hulle is soos die reuse waarvan jy al gehoor het. Niemand kon hulle ooit oorwin nie.

3 Die Here jou God sal egter soos ’n groot vuur voor jou uittrek. Hy sal al hierdie volke voor jou vernietig. Binne ’n kort tydjie sal jy al die volke oorwin en die land beset. Dit sal gebeur soos die Here vir jou gesê het.

4 Wanneer die Here almal voor jou uitgejaag het, moet jy nie skielik te veel van jouself begin dink nie. Moenie sê jy het die land gekry omdat jy so goed is nie. Nee, die Here het die nasies uitgeroei omdat hulle so sleg was.

5 Dit is nie omdat jy so opreg en volmaak is dat die Here die land vir jou gee nie. Hy verjaag die nasies uit die Beloofde Land omdat hulle so goddeloos is, maar ook omdat die Here sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob waar wil maak.

6 Onthou dan, die Here gee jou nie hierdie goeie, vrugbare land omdat jy kwansuis so goed is nie. Eintlik is jy hardkoppig en vol van jouself.”

Israel buig voor hulle eie handewerk

7 “Julle moet nooit vergeet hoe kwaad julle die Here in die woestyn gemaak het nie. Vandat julle uit Egipte weg is tot hier in die vlakte van Bet-Peor het julle julle nog net teen die Here verset.

8 By die berg Horeb was dit die ergste. Julle het die Here toe so kwaad gemaak dat Hy julle daar en dan wou verwoes het.

9 Dit was toe ek die berg op was dat julle iets verskrikliks gedoen het. Ek is teen die berg op om die klippe waarop die Here as’t ware self sy wil vir ons geskryf het te gaan haal. Veertig dae en nagte lank was ek bo-op die berg. In daardie tyd het ek niks geëet of gedrink nie.

10 Die Here het my die twee plat klippe gegee waarop Hy as’t ware in sy eie handskrif vir ons sy wil neergeskryf het. Dit was presies dieselfde as wat Hy vroeër vir ons uit die vuur gesê het.

11 “Na 40 dae en nagte het die Here my toe die klippe gegee en gesê:

12 ‘Klim vinnig van die berg af, want die mense wat jy uit Egipte weggelei het, het ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het sommer vroeg al die rug vir My gedraai en vir hulle ’n goue beeld gemaak.’

13 Die Here het ook vir my gesê: ‘Ek het hierdie volk goed deurgekyk en hulle is sleg!

14 Jy moet My nie probeer keer nie, want Ek gaan hulle nou vernietig. Ek gaan hulle naam so uitwis dat niemand ooit weer van hulle sal praat nie. Dan sal Ek vir jou, Moses, die leier van ’n ander, beter en groter volk maak.’

15 “Ek is toe vinnig bergaf met die twee plat klippe onder my arms. Oral op die berg was daar net vuur en vlamme.

16 En toe skielik sien ek dit. Voor my was die goue bulkalf wat julle gemaak het. Julle het sommer gou opgehou om God te dien.

17 Ek het die twee klippe toe voor julle oë stukkend gegooi.

18 “Ek het toe weer voor die Here neergebuig, soos die eerste keer toe ek 40 dae en nagte lank met Hom geworstel het. Soos die vorige keer het ek ook niks geëet en gedrink nie. Ek het met Hom geworstel omdat julle die Here diep teleurgestel en Hom kwaad gemaak het.

19 Ek was ook vir die Here se woede bang. In sy verskriklike woede wou Hy julle verwoes, maar gelukkig het Hy weer na my geluister.

20 Aäron het die Here ook kwaad gemaak en Hy wou hom net uitwis. En ek het toe ook vir Aäron gebid.

21 Verder het ek daardie afskuwelike goue kalf gevat en dit in die vuur gesmyt. Toe het ek dit fyngemaal en die stof wat oorgebly het, in die berg se stroompie gegooi.

22 “Later het julle die Here ook by Tabera, Massa en Kibrot-Taäwa teleurgestel.

23 En dan was daar ook nog die voorval by Kades-Barnea met die verkenners. Die Here het gesê julle kan maar die Beloofde Land binnetrek, maar julle het geweier. Julle wou nie die Here vertrou nie; daarom het julle nie na Hom geluister nie.

24 Van die eerste dag af dat ek julle leer ken het tot vandag toe was julle nog net ongehoorsaam aan die Here.

25 “Dit is dan waarom ek 40 dae en nagte lank met die Here geworstel het. Hy wou julle vernietig.

26 Maar ek het vir julle gebid en gesê: ‘Almagtige God, moet tog nie u eie mense uitwis nie. Moet tog nie die mense wat U so kragdadig uit Egipte se swaarkry gered het, verwoes nie.

27 Dink aan Abraham, Isak en Jakob vir wie U lief was en vergeef Israel se hardkoppigheid en sonde.

28 As U hulle uitwis, sal die Egiptenaars net sê dit is omdat U hulle nie in die land kon inbring wat U aan hulle beloof het nie. Of dat U hulle so gehaat het dat U hulle doelbewus woestyn toe gevat het om hulle daar te laat doodgaan.

29 Here, Israel is u eiendom. U het hulle met u groot krag uit Egipte gaan haal. Daarom, Here, moet hulle tog nie nou verwoes nie.’”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34