12 Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here julle God gelukkig wees. Julle kinders, julle werkers en die Leviete wat by julle woon, moet vrolik voor die Here wees. Dink altyd aan die Leviete, want hulle het nie ’n deel van die land gekry nie.
13 “Julle moenie meer by enige plek waarvan julle hou, gaan offer nie.
14 Julle moet net na die spesifieke plek toe gaan wat die Here uit al die stamme van Israel sal kies. Daarheen moet julle julle brandoffers bring en daar moet julle alles doen wat ek vir julle gesê het.
15 Julle mag natuurlik oral diere slag en eet. Eet na hartelus soveel as wat die Here julle gegee het. Almal kan van die vleis eet soos ’n mens ’n takbok of ’n ribbok eet.
16 Net die bloed mag julle nie eet of drink nie. Julle moet dit weggooi.
17 Julle mag egter nie die tiendes van julle koring, mos, olie en die eersgeborenes van julle vee in julle blyplekke eet nie. Ook nie die vrywillige offers wat julle die Here belowe het of enige ander offer nie.
18 Julle en julle kinders asook julle werkers en die Leviete wat in julle dorpe woon, moet hierdie offers net by een plek eet. En dit is die plek wat die Here sal kies. Daar moet julle voor die Here bymekaarkom en bly wees oor julle harde werk.