1 “Wanneer jy ’n dier, ’n skaap of ’n bees bring om vir die Here jou God te offer, mag dit nie ’n gebreklike dier wees nie. Met só ’n offer beledig jy die Here. Hy hou net mooi niks daarvan nie.
2 “Sê nou maar iemand wat in ’n dorp bly, breek die ooreenkoms wat die Here jou God met jou gemaak het. Sê nou iemand doen ’n baie slegte ding
3 deur ander gode te aanbid. Hy buig dalk voor die son of die maan of een van die planete of sterre en aanbid hulle asof hulle gode is. Natuurlik het die Here jou God jou verbied om enige ander gode te aanbid.
4 Wel, as jy hoor dat iemand so iets afskuweliks gedoen het, moet jy baie deeglik ondersoek instel na wat daar gebeur het. As dit waar is dat iemand dit gewaag het om so iets afskuweliks in Israel te doen,
5 moet jy daardie mens tot by die uitgang van die stad vat. Daar moet julle hom dan met klippe doodgooi.
6 Maar jy mag nooit iemand doodmaak net omdat een persoon sê dat hy dit gedoen het nie. Daar moet altyd ten minste twee of drie mense wees wat gesien het dat die persoon iets afskuweliks gedoen het.