13 Só sal almal daarvan hoor en te bang wees om ook so te maak.”
14 “Een van die dae trek jy in die land in wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy moet hierdie land vir jouself vat en daarin gaan bly. Dan kan jy dalk op ’n dag begin dink: ons behoort ook ’n koning te hê, want al die ander nasies wat rondom ons bly, het konings.
15 “As dit gebeur dat jy ’n koning wil aanstel, moet jy baie seker maak jy kies die man wat die Here jou God vir hierdie werk gekies het. Jy moet iemand kies wat ook ’n Israeliet is. Jy mag nie iemand van ’n ander nasie as koning oor jou aanstel nie.
16 Hierdie koning mag nie vir hom ’n groot klomp perde bymekaarmaak nie. Hy mag ook nooit toelaat dat die mense van sy volk na Egipte toe gaan om daar perde te gaan koop nie. Die Here het mos baie duidelik vir jou gesê dat jy nooit weer na Egipte mag teruggaan nie.
17 Jou koning mag ook nie vir homself ’n klomp vroue vat en met hulle trou nie. Hulle sal hom dalk beïnvloed sodat hy nie meer die Here alleen dien nie. Hy moet ook nie baie geld en besittings vir homself bymekaarmaak nie.
18 “As hy as koning op die troon sit, moet hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het om te doen. Hy moet hierdie boek afskryf van die boek wat by die mense is wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi. En hierdie mense moet toesien dat hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het.
19 Hy moet die boek met hierdie opdragte elke dag by hom hou. Hy moet elke dag daaruit lees, solank hy leef. So sal hy leer om die Here te respekteer, as hy alles doen wat Ek jou beveel het om te doen.