Deuteronomium 17:7-13 DB

7 Die mense wat kom vertel het dat die persoon so iets gedoen het, moet altyd die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak. Dan moet die ander mense in die dorp ook die persoon met klippe gooi. Op hierdie manier moet jy keer dat slegte dinge tussen julle gebeur.”

8 “Sê nou maar iemand word voor jou hof gedaag, en jy kan nie besluit hoe sy saak hanteer moet word nie. Hierdie persoon het dalk iemand doodgemaak of iemand aangerand of iets anders gedoen wat baie ernstig is. Julle kan nie saamstem hoe om die saak te hanteer of watter straf die skuldige persoon opgelê moet word nie. Hoe hanteer jy dit dan? Wel, gaan na die plek toe wat die Here jou God sal kies om sy huis te laat bou.

9 Gaan dan na die kinders van Levi wat by die huis van die Here sal werk. Daar onder hulle is ook mense wat ernstige hofsake kan hanteer. So ’n ernstige saak moet by hulle uitkom. Hulle sal besluit of die persoon skuldig is, en wat sy straf moet wees as hy skuldig is.

10 Jy moet dan presies doen wat hulle besluit met die skuldige persoon gedoen moet word. Hulle werk nie verniet in die huis wat die Here sal kies om in te woon nie. Doen alles wat hulle vir jou sê om te doen. Lewe soos hulle sê jy moet.

11 Hulle sal besluit wat die wet sê met die persoon gedoen moet word wat skuldig is aan die een of ander misdaad. Jy mag niks verander aan die uitspraak wat hierdie hof gee nie.

12 Iemand steur hom dalk nie aan die mense wat in die huis van die Here werk nie. Of hy waag dit om te verander aan die opdrag wat die regter gee oor wat met die skuldige persoon gedoen moet word. Of hy steur hom nie aan wat die persoon sê wat in die huis van die Here werk nie. So ’n persoon moet op die plek doodgemaak word.

13 Só sal almal daarvan hoor en te bang wees om ook so te maak.”