11 Onder die gevangenes sien jy ’n vrou wat vir jou mooi is. Jy raak verlief op haar en wil met haar trou.
12 Dan moet jy so maak: jy moet haar gaan haal dat sy in jou huis kom bly. Daar moet sy haar hare afskeer en haar naels kort sny.
13 Sy moet ook die klere uittrek wat sy gedra het toe sy ’n gevangene was. Jy moet haar los dat sy ’n maand lank in jou huis bly. In hierdie tyd moet sy oor haar pa en ma treur. Eers hierna mag jy met haar trou.
14 Maar sê nou jy trou met haar en vind dan later uit dat jy nie meer lief is vir haar nie. Dan moet jy haar laat weggaan. Jy mag haar nie verkoop nie. En jy mag haar nie behandel asof sy ’n huishulp is nie, want jy het by haar geslaap.”
15 “Sê nou ’n man het twee vroue. Hy is baie lief vir die een, maar nie vir die ander een nie. Hy het ’n seun by al twee hierdie vroue. Sê nou die seun wat eerste gebore word, is die seun van die vrou vir wie hy nie baie lief is nie.
16 As hierdie man nou in sy testament skryf wie wat moet erf, mag hy nie dat die jonger seun meer erf as die ouer broer net omdat hy die seun is van die vrou wat hy liefhet nie.
17 Die ouer seun moet ’n dubbele deel kry van wat geërf word, soos dit die gebruik onder julle is. Die pa het immers hierdie seun eerste gehad en hierdie seun moet erf as die seun wat eerste gebore is, selfs al is hy die seun van die vrou vir wie die pa nie baie lief is nie.”