5 Jy moet dan daar waar die Here jou God self teenwoordig is, sê: ‘My oupagrootjie Jakob was ’n Arameër wat oor die aarde getrek het omdat hy geen grond van sy eie gehad het nie. Toe het hy in Egipte gaan bly. Sy familie was klein. Hulle was ’n handjie vol mense. Maar in Egipte het hulle baie geword. Hulle het ’n groot nasie geword wat baie sterk was.
6 Die Egiptenaars het dit gesien. Toe het hulle ons sleg behandel. Hulle het ons verneder en ons sonder betaling hard laat werk.
7 Toe het ons na die Here geroep. Ons het Hom gevra om ons van die Egiptenaars te red. Hulle het ons baie hard laat werk sonder om ons te betaal en hulle het ons verdruk. Maar God is die God van ons oupagrootjies en oumagrootjies. Hy het gehoor toe ons roep. Hy het gesien hoe sleg ons behandel word en hoe swaar ons daar kry.
8 Toe het die Here ons uit Egipte gered. Hy het wonderlike dinge gedoen, want Hy is baie sterk. Die dinge wat Hy gedoen het om ons te red, was net ongelooflik!
9 Toe het Hy ons na hierdie plek gebring. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n goeie land. Hier is meer as genoeg om van te leef.
10 Daarom, Here, bring ek hierdie geskenk vir U. Dis maar net ’n ietsie van die baie wat U vir my gegee het. Ek bring dit van die eerste oes wat ek vanjaar in hierdie land afgehaal het.’“Dan moet jy die geskenk voor die Here jou God neersit. Jy moet laag voor die Here buig en Hom dien.
11 As jy klaar is, moet jy teruggaan na waar jy bly. Dan moet jy daar ’n groot fees vier omdat die Here jou God goeie dinge vir jou en jou huismense gegee het. Wees bly, want Hy is goed vir jou. Onthou net om ook vir die mense wat in die huis van die Here jou God werk, die kleinkinders van Levi, iets saam te bring. Doen ook goed aan die vreemdelinge. Deel die goeie dinge wat die Here vir jou gegee het met hulle. Laat hulle saam met jou feesvier en bly wees.”