Deuteronomium 26:8-14 DB

8 Toe het die Here ons uit Egipte gered. Hy het wonderlike dinge gedoen, want Hy is baie sterk. Die dinge wat Hy gedoen het om ons te red, was net ongelooflik!

9 Toe het Hy ons na hierdie plek gebring. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n goeie land. Hier is meer as genoeg om van te leef.

10 Daarom, Here, bring ek hierdie geskenk vir U. Dis maar net ’n ietsie van die baie wat U vir my gegee het. Ek bring dit van die eerste oes wat ek vanjaar in hierdie land afgehaal het.’“Dan moet jy die geskenk voor die Here jou God neersit. Jy moet laag voor die Here buig en Hom dien.

11 As jy klaar is, moet jy teruggaan na waar jy bly. Dan moet jy daar ’n groot fees vier omdat die Here jou God goeie dinge vir jou en jou huismense gegee het. Wees bly, want Hy is goed vir jou. Onthou net om ook vir die mense wat in die huis van die Here jou God werk, die kleinkinders van Levi, iets saam te bring. Doen ook goed aan die vreemdelinge. Deel die goeie dinge wat die Here vir jou gegee het met hulle. Laat hulle saam met jou feesvier en bly wees.”

12 “Jy moet elke derde jaar ’n spesiale tiende van jou oes vat. Hierdie tiende behoort aan die Here. Jy moet dit vir die mense wat in die huis van die Here werk en vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gee. As jy só maak, sal hulle ook genoeg hê om te eet. Dan sal niemand in een van jou stede honger ly nie.

13 Jy moet hardop sê: ‘Ek het die geskenk uit my huis wat aan die Here behoort, gevat. Ek het dit vir die mense wat die Here dien en in sy huis werk, asook vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gegee. Ek het alles gedoen nes U my beveel het, Here. Ek het niks wat U my beveel het, vergeet nie.

14 Ek het niks daarvan geëet terwyl ek hartseer was omdat iemand na aan my dood is nie. Ek het ook nie hierdie offer vir U gebring toe ek nie heeltemal rein was nie. En ek het niks daarvan as ’n offer vir dooie mense gegee nie. Ek het alles gedoen wat die Here my beveel het. Ek het nie vergeet wat U vir my gesê het nie.