13 Wat die Here van jou vra, kan jy doen. Sy opdragte is ook nie ver oor die see sodat jy iemand moet soek om op ’n skip te klim en oorsee te vaar om dit te gaan soek nie. Jy kán lewe soos die Here van jou verwag.
14 Wat Hy van jou vra, is eintlik baie naby aan jou. Ek het dit vir jou in jou hand gegee. Jy kan daaroor praat. Ja, jy ken dit al teen dié tyd. Jy is in staat om te lewe soos die Here van jou verwag.
15 “Maar luister nou baie mooi. Ek stel julle vandag voor die keuse. Julle kan self kies. Julle moet kies wat julle wil hê. Wil julle hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, of kies julle vandag teëspoed? Kies tussen lewe en dood!
16 Ek het vandag mos vir jou gesê wat jy moet doen. Jy moet die Here jou God liefhê. Jy moet Hom eerste in jou lewe stel. En jy moet noukeurig alles doen wat Hy sê jy moet doen. Jy moet agter Hom aanloop. As jy dit doen, sal jy lewe. Die Here sal jou voorspoedig maak. Jy sal ’n groot nasie word. En die Here sal dit met jou goed laat gaan in die land wat Hy vir jou gaan gee. Jy staan op die punt om hierdie land vir jou te vat.
17 “Maar jy kan dalk vandag kies om in die teenoorgestelde rigting te loop. Jy weier om na die Here te luister. Jy gaan soek vir jou afgode en jy buig voor hulle neer.
18 Dan waarsku ek jou vandag dat die Here jou definitief gaan vernietig. Dit sal sleg met jou gaan. Jy sal nie baie lank in hierdie goeie land bly nie.
19 “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders.