7 Toe het Moses vir Josua geroep. Hy het toe kliphard vir hom gesê: “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Jy moet hierdie volk die land inlei wat die Here belowe het om vir hulle te gee. Hy het dit reeds vir hulle oupagrootjies belowe. Jy moet hierdie volk lei sodat hulle die nasies in hierdie land kan verslaan. Jy moet hierdie land vir Israel gaan gee.
8 Moenie bang wees nie! En bly altyd vol moed! Die Here gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Jy is nooit alleen nie. Die Here is by jou!”
9 Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee.
10 Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf.
11 Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor.
12 Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra.
13 Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.”