43 “Daarom moet almal wat in die hemel bly vrolik wees. Hulle moet feesvier en God aanbid. Al die mense wat die Here dien, moet ook vrolik wees. Want die Here maak dié mense dood wat sy kinders aangeval het en hulle skade berokken het. Hy maak al sy vyande dood. Hy maak sy land en sy mense skoon. Daar sal weer vrede wees tussen die Here en sy volk.”
44 Moses het toe hierdie lied vir die volk geleer. Josua, Nun se seun, het langs hom gestaan en hom gehelp.
45 Toe Moses klaar was,
46 het hy vir die Israeliete gesê: “Julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle gesê het. Vertel ook vir julle kinders wat ek vandag vir julle gesê het. Leer hulle om dit te doen.
47 Wat ek vir julle gesê het, is nie net praatjies nie. Nee, hierdie woorde bring lewe. As julle presies doen wat ek vir julle gesê het, sal julle lank leef en oud word in die land wat julle nou ingaan wanneer julle deur die Jordaan getrek het.”
48 Daardie dag het die Here vir Moses gesê:
49 “Gaan klim op die Neboberg. Hierdie berg is aan die oostekant van die Jordaan, oorkant Jerigo. Kyk goed na Kanaän. Dis die land wat Ek vir die volk Israel gee sodat hulle daarin kan bly en dit besit.