27 Moses, jy alleen moet van nou af na die stem van die Here gaan luister en ons dan kom vertel wat Hy sê. Ons sal goed na jou luister en doen wat die Here vra.’”
28 Moses het toe die volk geantwoord: “Terwyl julle so met my gepraat het, het die Here elke woord gehoor. En Hy het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hulle jou gevra het en dit is goed so.
29 As hulle My tog maar altyd so sal liefhê en so volgens my wil sal leef dat dit met hulle en hulle kinders goed kan gaan.
30 Gaan sê vir hulle dit is reg so en laat hulle na hulle tente toe teruggaan.
31 Jy, Moses, moet egter nader aan My kom staan sodat Ek my wet en gebooie vir jou kan vertel. Jy moet hulle dan my wil gaan leer sodat hulle vir altyd die land kan behou wat Ek hulle gaan gee.’”
32 Moses het weer al die leiers bymekaargeroep en gesê: “Israel, luister na die wil van die Here en doen alles wat Hy julle vra. Moet nooit ’n enkele tree daarvan afwyk nie.
33 Loop die pad van gehoorsaamheid sodat julle gelukkig kan leef en vir altyd in die land kan woon wat julle in besit gaan neem.”