1-2 Die volgende verhaal het in die tyd van koning Ahasveros van Persië afgespeel. Uit sy paleis in Susan het hy oor 127 provinsies regeer, wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië.
3 In sy derde jaar as koning het hy ’n groot fees gehou vir al sy hoë amptenare en ander werknemers. Die weermagoffisiere van Persië en Medië was daar, asook ander uitgesoekte gaste en die regeerders van die provinsies.
4 Ses maande lank het hy met sy rykdom en indrukwekkende koninkryk gespog.
5 Daarna het die koning almal in die stad Susan ’n week lank in die paleistuin onthaal. Dit het nie saak gemaak of hulle belangrik was of nie, ryk of arm, almal is uitgenooi.
6 Die binnehof was baie mooi versier. Blou en wit linnedoeke is met pers linte aan silwerringe teen die marmerpilare vasgemaak. Goue en silwerrusbanke is oral in die binnehof neergesit op plaveisel van baie kosbare stene en klippe.
7 Die wyn is in goue bekers bedien wat ryklik versier was. Die koning het ook gesorg dat daar nie ’n tekort aan wyn uit sy kelder was nie.