1 Toe Mordegai hoor van alles wat gebeur het, was hy baie hartseer en ontsteld. Hy het begrafnisklere aangetrek en al huilend deur die stad geloop,
2 tot by die ingang van die paleis. Daar het hy bly staan, want volgens die reël kon niemand met begrafnisklere aan daar ingaan nie.
3 Toe die nuus van die koning se opdrag in die provinsies bekend geword het, het die Jode begin treur. Hulle het gevas en gehuil en gekla en baie het met begrafnisklere rondgeloop.
4 Toe koningin Ester se kamerpersoneel en paleisbeamptes vir haar van Mordegai kom vertel, was sy baie omgekrap. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy begrafnisklere aan trek, maar hy wou nie.
5 Ester laat roep toe een van haar paleisbeamptes met die naam Hatak. Sy stuur hom na Mordegai toe om uit te vind wat aan die gang was en waarom hy begrafnisklere dra.
6 Hatak is toe uit na Mordegai toe waar hy op die binneplein by die ingang van die paleis gestaan het.
7 Mordegai het Hatak in sy vertroue geneem en hom die hele storie vertel. Ook van die groot hoeveelheid geld wat Haman bereid was om die koning te betaal as hy die Jode kon doodmaak.
8 Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die koninklike bevel wat in Susan uitgereik is, wat bepaal het dat die Jode doodgemaak moes word. Mordegai het hom toe gevra om dit na Ester toe te vat en die hele situasie aan haar te verduidelik met die opdrag dat sy na die koning toe moes gaan en by hom moes gaan pleit vir genade vir haar mense.
9 Hatak het dit gedoen.
10 Ester het hom toe weer gestuur met die volgende boodskap vir Mordegai:
11 “Almal weet tog dat daar ’n wet is wat bepaal dat as iemand ongenooid na die koning toe gaan, daardie persoon doodgemaak moet word. Al wanneer jy na die koning toe mag gaan, is wanneer hy sy goue septer na jou toe uitsteek as ’n teken dat hy jou roep. Wat my betref, het die koning my in elk geval ’n maand laas na hom toe laat kom.”
12 Toe Mordegai Ester se boodskap ontvang,
13 het hy haar gewaarsku: “Moenie dink omdat jy in die paleis bly, jy is enigsins veiliger as enige ander Jood nie.
14 As jy in ’n krisistyd soos hierdie stilbly, kom daar dalk van ’n ander kant af hulp vir die Jode. Hulle word dalk gered, maar dan sal jy en jou familie as verraaiers beskou word. Dan sal julle nie meer welkom wees by julle eie mense nie. Wie weet, dalk moes jy juis koningin word om jou volk te help.”
15 Daarop het Ester vir Mordegai laat weet:
16 “Gaan maak al die Jode in Susan bymekaar en vas ter wille van my. Vir drie volle dae moet julle niks eet of drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal dit ook doen. Daarna, al is dit onwettig, sal ek na die koning toe gaan. En as dit dan my einde moet wees, dan is dit goed so.”
17 Mordegai is toe daar weg en het gaan doen wat Ester gevra het.