10 Die koning het ingestem, sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman, die vyand van die Jode, gegee. Hy was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete.
11 “Hou die geld,” het hy gesê, “en doen met die Jode net wat jy wil.”
12 Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan. Die briewe is in die naam van koning Ahasveros geskryf en met sy seëlring verseël as ’n teken dat die briewe eg was.
13 Die briewe is toe deur boodskappers na elke provinsie toe geneem met die opdrag om al die Jode uit te roei, oud en jonk, vroue en kinders, almal voor die voet. Hierdie slagting is beplan vir 7 Maart die volgende jaar. Diegene wat die Jode doodgemaak het, het ook die reg gehad om al hulle besittings vir hulleself te vat.
14 Elke provinsie moes ’n afskrif van die brief kry sodat almal dit kon lees en reg kon wees op die beplande dag.
15 Op die koning se bevel is die brief in die hoofstad, Susan, gelees. Daarna is die boodskappers haastig met die briewe weg na die provinsies toe. Die koning en Haman het dit toe met ’n drankie gaan vier, maar die stad self was verbaas en verward hieroor.