2 Op bevel van die koning moes al sy paleisamptenare voor Haman buig om hulle respek vir hom te wys. Almal van hulle het dit gedoen, behalwe Mordegai. Hy het geweier.
3 Die ander amptenare wou toe by Mordegai weet waarom hy weier om die koning se bevel te gehoorsaam.
4 Hulle het elke dag met hom daaroor gepraat. Toe hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle vir Haman daarvan vertel. Hulle wou sien of Haman iets daaraan sou doen, want Mordegai het intussen vir hulle vertel dat hy ’n Jood is.
5 Haman was woedend toe hy agterkom dat Mordegai nie respek het vir hom nie.
6 Daarom het hy besluit om nie net vir Mordegai te straf nie, maar om sommer al die Jode in die Persiese ryk uit te roei.
7 In die eerste maand van koning Ahasveros se twaalfde regeringsjaar, dit is die maand Nisan, het Haman opdrag gegee dat hulle lootjies moes trek (of soos hulle dit genoem het, Purim) om ’n geskikte datum te kry waarop hulle die Jode kon uitroei. Hulle het toe op 7 Maart van die volgende jaar besluit.
8 Haman sê toe vir die koning: “Daar is ’n sekere volk wat reg deur u ryk in al die provinsies versprei is. Hulle gebruike en gewoontes verskil van al die ander volke s’n. Om die waarheid te sê, hulle weier selfs om u wette te aanvaar. Ek dink nie dit is in u beste belang om hulle so te laat aangaan nie.