6 Daarom het hy besluit om nie net vir Mordegai te straf nie, maar om sommer al die Jode in die Persiese ryk uit te roei.
7 In die eerste maand van koning Ahasveros se twaalfde regeringsjaar, dit is die maand Nisan, het Haman opdrag gegee dat hulle lootjies moes trek (of soos hulle dit genoem het, Purim) om ’n geskikte datum te kry waarop hulle die Jode kon uitroei. Hulle het toe op 7 Maart van die volgende jaar besluit.
8 Haman sê toe vir die koning: “Daar is ’n sekere volk wat reg deur u ryk in al die provinsies versprei is. Hulle gebruike en gewoontes verskil van al die ander volke s’n. Om die waarheid te sê, hulle weier selfs om u wette te aanvaar. Ek dink nie dit is in u beste belang om hulle so te laat aangaan nie.
9 As u dit goedvind, vaardig ’n koninklike bevel uit dat hulle uitgeroei moet word. As u dit doen, sal ek 342 ton silwer vir die ontvangers van inkomste gee om in die koning se skatkis te sit.”
10 Die koning het ingestem, sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman, die vyand van die Jode, gegee. Hy was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete.
11 “Hou die geld,” het hy gesê, “en doen met die Jode net wat jy wil.”
12 Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan. Die briewe is in die naam van koning Ahasveros geskryf en met sy seëlring verseël as ’n teken dat die briewe eg was.