1-2 Die koning en Haman het toe by Ester gaan eet. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, het die koning weer vir haar gevra: “Koningin Ester, wat is dit wat jy van my wil hê? Sê vir my en ek sal dit vir jou gee, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.”
3 Koningin Ester antwoord toe: “As dit vir die koning reg is, wil ek graag die volgende versoek rig: Laat my en my mense asseblief toe om te bly lewe.
4 Want u sien, ek en my mense is verkoop om voor die voet doodgemaak en uitgeroei te word. As ons net as slawe verkoop was, sou ek u nie daarmee gepla het nie, want dit sou nie vir die koning so ’n verlies gewees het nie. Maar om uitgeroei te word!”
5 “Wie wil so iets doen?” wou koning Ahasveros weet. “Waar is hierdie man?”
6 Toe sê Ester: “Ons vyand, die een wat ons vervolg, is hierdie slegte man Haman.” Haman het hom asvaal geskrik en angsbevange na die koning en Ester gestaar.
7 Die koning het woedend van die tafel af opgestaan en uitgestorm tuin toe. Haman het geweet dat die koning van plan was om hom hiervoor te straf. Daarom het hy agtergebly om by Ester te pleit vir sy lewe.
8 Uit wanhoop het Haman neergeval op die rusbank waarop Ester gesit het. Op daardie selfde oomblik het die koning teruggekom van die tuin af. Toe hy dit sien, het hy woedend uitgeroep: “Wil jy nog die koningin ook hier voor my oë in my paleis aanrand?” Die koning se woorde was skaars koud, toe gryp sy paleisamptenare vir Haman en trek ’n doek oor sy kop. Daarmee was dit duidelik dat sy lot beseël was.