14 Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig.
15 Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier.
16 Die Jode was opgeruimd en vrolik. Hulle het gevoel dat hulle weer waardige mense was.
17 In elke stad en provinsie waar die koning se proklamasie uitgevaardig is, het die Jode gejuig en reg deur die dag feesgevier. Baie mense het by die Jode aangesluit omdat hulle bang was vir wat die Jode nou aan hulle sou doen.