3 Ester het weer met die koning gaan praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en by hom gehuil. Sy het hom gesmeek om die slegte plan van Haman, die afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, teen die Jode stop te sit.
4 Die koning het weereens sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy staan toe op en sê vir hom:
5 “As dit met die koning reg is en as u van my hou, skryf asseblief ’n koninklike brief om Haman, die seun van Hammedata en ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, se opdragte te stop. Hy het beveel dat die Jode in al die provinsies doodgemaak moet word.
6 Hoe sou ek dit kon verdra om te sien hoe my volk deur so ’n ramp getref word en my eie familie uitgeroei word?”
7 Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester en vir Mordegai die Jood: “Kyk, ek het Haman laat ophang oor sy komplot teen die Jode en al sy bates vir Ester gegee.
8 Skryf julle nou ’n brief aan die Jode, soos julle goeddink, en stuur dit aan hulle in my naam en verseël dit met my seëlring. Onthou: ’n brief wat in die koning se naam geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan nie teruggetrek word nie.”
9 Hulle het toe dadelik die koning se skrywers laat kom. Dit was 25 Junie. Mordegai het briewe gedikteer vir al die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en al die beamptes in die 127 provinsies wat vanaf Indië tot by Soedan gestrek het. Die briewe is aan elke provinsie in hulle eie taal en skrif gestuur sodat hulle dit kon verstaan. Ook die Jode het hulle briewe in hulle eie taal en skrif gekry.