9 Hulle het toe dadelik die koning se skrywers laat kom. Dit was 25 Junie. Mordegai het briewe gedikteer vir al die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en al die beamptes in die 127 provinsies wat vanaf Indië tot by Soedan gestrek het. Die briewe is aan elke provinsie in hulle eie taal en skrif gestuur sodat hulle dit kon verstaan. Ook die Jode het hulle briewe in hulle eie taal en skrif gekry.
10 Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël. Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het.
11 Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig. Hulle het nou die reg gehad om enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aangeval het voor die voet dood te maak, vroue en kinders inkluis. Hulle kon selfs hulle aanvallers se besittings as buit vir hulleself vat.
12 Die dag waarop hierdie koninklike opdrag in al die provinsies in werking sou tree, was 7 Maart die volgende jaar.
13 Hierdie proklamasie moes in elke provinsie as ’n wet afgekondig word en almal moes daarvan weet. Dit sou verseker dat die Jode gereed sou wees om wraak te neem op hulle vyande wanneer daardie dag aanbreek.
14 Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig.
15 Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier.