3 Om die waarheid te sê, al die bestuurders van die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander mense in die koning se diens het hulle eerder gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.
4 Want Mordegai het alreeds ’n hoë posisie in die paleis beklee en het by die dag magtiger geword.
5 Maar die Jode het hulle teëstanders met die swaard uitgeroei. Hulle het hulle vyande doodgemaak en vermorsel. Met almal wat hulle gehaat het, het hulle gedoen net wat hulle wou.
6 In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak.
7-10 Onder hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, die vyand van die Jode: Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Maar die Jode het nie hierdie mense se besittings gevat nie.
11 Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.
12 Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.”