11 Daarna swiep hulle soos die wind voort en verdwyn net. Vir hierdie mense is hulle eie mag hulle god. Hulle glo hulle mag kan nie misluk nie.
12 Here, U was van altyd af daar en sal altyd daar wees. My God, U is volmaak, ’n mens kan nie anders nie as om U te aanbid. Here, by U het ons ook nog altyd veilig gevoel, maar nou het U die Babiloniërs aangestel om te wys dat ons skuldig is. U gebruik hulle om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het.
13 U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef.
14 Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie?
15 Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry.
16 Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos.
17 Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak?