4 Die Here het vir Hosea gesê: “Die seuntjie se naam moet Jisreël wees. Een van die dae gaan Ek vir koning Jehu straf omdat hy die mense by Jisreël vermoor het. Dit is nou klaarpraat met die ryk van Israel.
5 Ek gaan Israel se weermag in die vlakte van Jisreël op sy knieë dwing.”
6 Gomer het weer verwag en ’n dogtertjie gehad. Die Here het vir Hosea gesê: “Haar naam is Lo-Rugama. Dit beteken ‘Gee nie meer om nie’. Ek gee nie meer vir Israel om nie. Ek gaan nie weer hulle sonde vergewe nie.
7 Maar Ek sal steeds lief bly vir die mense van Juda in die suide. Ek sal hulle red. Daar sal nie ’n oorlog nodig wees om hulle van hulle vyande te bevry nie.”
8 Toe sy opgehou het om Lo-Rugama te borsvoed, het Gomer weer ’n baba verwag en toe ’n seuntjie gehad.
9 Hierdie keer het die Here gesê: “Sy naam is Lo-Ammi. Dit beteken ‘Nie my volk nie’, want julle is nie meer my volk nie en Ek is nie meer julle God nie.”
10 “Nogtans sal die Israeliete so baie word soos die sandkorrels van die see wat ’n mens nie kan meet of kan tel nie. Ek sê nou vir hulle: julle is nie meer my volk nie. In die toekoms sal Ek weer vir hulle sê: julle behoort aan God wat altyd lewe.