1 Die Here sê: “Stuur ’n noodsein uit! Die vyand duik soos valke op Israel af. Israel wou nie langer aan My behoort nie. Hulle wou nie langer doen wat Ek van hulle vra nie. Hulle het my ooreenkoms met hulle verbreek.
2 Hulle roep nou verniet: ‘My God! Israel is getrou aan U!’
3 Dit is nou te laat. Hulle het klaar al hulle kanse weggegooi. Die vyand is klaar besig om hulle te agtervolg.
4 Hulle het konings aangestel wat Ek nie goedgekeur het nie. Hulle het nie aan My gedink toe hulle hulle leiers gekies het nie. Hulle het beelde van afgode gemaak met hulle silwer en hulle goud. Hierdie beelde veroorsaak dat hulle in die moeilikheid beland.
5 Ek wil niks te doen hê met die kalf wat jy uit goud gemaak het nie, Samaria. Ek is woedend oor julle dit gemaak het. Hoeveel tyd moet verbygaan voordat julle sal leer om sonder afgode klaar te kom?
6 Die kalf wat hulle gemaak het, is ’n ding wat Israel self uitgedink het. ’n Goudsmid het dit vir julle uit goud gemaak. Dit kan mos nie ’n god wees nie! Samaria se kalf sal nog in stukkies gebreek word.
7 Dit gaan julle niks in die sak bring nie. Dit is soos wanneer jy wind saai en al wat jy kry, is ’n stormwind. As koringare nie ryp word nie, kan dit nie gemaal word om meel te maak nie. Selfs al word die koring miskien ryp, kan niks verseker dat dinge nie verkeerd sal loop nie. Ander mense kan jou koring kom steel, dit afoes en dit eet.”
8 “Israel het tussen die nasies weggeraak. Hy het tussen die volke geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie.
9 Efraim is soos ’n wildedonkie wat alleen in die veld ronddwaal. Hy soek na maats. Hy gaan na Assirië toe om iemand te kry wat saam met hom kan bly.
10 Selfs al kry Israel iemand anders onder die nasies wat hom wil help, gaan dit op niks uitloop. Ek sal hulle in ’n hoek vasdruk. Hulle knieë sal onder hulle knak soos pakdonkies wat ’n vrag dra wat te swaar is. Hulle sal soos ’n dier wees waarop die koning en die leiers ’n vrag sit wat te swaar is om te dra.
11 “Efraim het al meer en meer plekke gebou waarop hy offers vir sy sonde kan bring. Efraim het egter die altare wat hy gebou het, gebruik om offers vir die afgode te bring. Dit het net gemaak dat hy al meer en meer teen die Here oortree het.
12 Al skryf Ek hoeveel keer vir Efraim neer wat Ek wil hê hy moet doen, sal hy dit nooit doen nie. Hy sal nie verstaan wat Ek wil hê nie.
13 Hulle hou daarvan om bymekaar te kom om offers te bring en by die offerplekke saam te eet. Die Here hou niks van die manier waarop hulle dit doen nie. Hulle doen dit op presies dieselfde manier as waarop ander nasies dit vir hulle afgode doen. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy gaan hulle straf vir al hulle sondes. Hy sal hulle weer laat teruggaan Egipte toe waar hulle slawewerk gedoen het.
14 “Israel het huise vir sy konings gebou. Juda het mure om sy stede gebou om hulle te versterk. Maar hulle het moedswillig van die Here vergeet. Hy is tog die Een wat hulle gemaak het. Daarom gaan Ek vuur laat uitbreek in hulle stede dat dit kan afbrand. Hulle koning se huis sal tot op die grond afbrand.”